Premier bedank na massa protes

Na elf dae van protes deur derduisende kiesers van Armenië waartydens geëis is dat die eerste minister moet bedank, het die druk te groot geword en moes Serzh Sargsyan sy uittrede aankondig.

Die kiesers het premier Serzh Sargsyan deurlopend beskuldig daarvan dat hy aan die mag bly kleef ten koste van die land en sy mense, en geëis dat hy bedank.

Yerevan, die hoofstad van Armenië, se strate het die afgelope 11 dae letterlik gebewe toe die optoggangers in hulle derduisende saamgedrom het.

Kort na die aankondiging van die eerste minister dat hy bedank het, was die strate weer gevul deur juigende kiesers wat hulle eie oorwinning gevier het.

Die regering het die voormalige eerste minister, Karen Karapetian, aangewys om intussen as premier te ageer.

Kort nadat die premier sy bedanking aangekondig het, is die opposisieleier,  Nikol Pashinian, vrygelaat wat in aanhouding verkeer het.

Foto – Serzh Sargsyan