Patricia verloor een geveg, begin met volgende

Patricia de Lille het aangedui dat sy tot die einde gaan veg om haar posisie as burgemeester van Kaapstad te behou en, soos sy dit stel, haar naam skoon te kry.

Dit volg op die DA koukus se mosie van wantroue in haar.

Enkele maande gelede het sy ‘n mosie van wantroue in die Kaapse metroraad oorleef, maar die DA het sy interne dissipline prosesse aangepas om op dié manier van haar ontslae te raak.

Die federale bestuur van die DA sal nou ingelig word van die koukus se mosie van wantroue teen haar, waarop sy nog vertoë kan indien, alhoewel haar kanse op sukses op feitlik nul gestel word.

De Lille beroep haar egter daarop dat sy deur die Kaapse kiesers verkies is en nie deur die DA se federale raad nie. Sy het die strate ingevaar en 25 openbare vergaderings gehou, en geen van die Kaapse kiesers het volgens haar ‘n beroep op haar gedoen om te bedank nie, dus is hulle tevrede met haar.

Intussen is waarnemers dit eens dat haar pad in die DA by ‘n eindpunt gekom het, en word daar reeds wyd gegis oor waarheen haar politieke aspirasies haar volgende heen sal neem.