Opspraakwekkende ontmoeting

Die kommunistiese leier van Noord-Korea en die president van Suid-Korea het vir die eerste keer in tien jaar mekaar die hand gegee toe hulle Vrydag ontmoet het.

President Moon Jae-in van Suid-Korea en Kim Jong-un van Noord-Korea het ’n geskiedkundige ontmoeting gehad waarna hulle indringend oor ’n groot aantal sake gepraat het sonder om te veel besonderhede aan die pers beskikbaar te stel.

Kim Jong-Un is die eerste kommunistiese leier van sy land wat sy voet in Suid-Korea gesit het en ’n vergadering gehou het met die suidelike buurland.

Sedert die oorlog tussen die twee lande in 1950 uitgebreek het, is daar nooit ’n vredesverdrag opgestel nie en is die twee lande tegnies steeds in ’n oorlog met mekaar gewikkel.

Die oorlog is egter in 1953 beëindig sonder ’n amptelike aankondiging, en nou ontmoet die twee lande se top diplomate om onder andere te besin oor die moontlikheid van hereniging terwille van die families wat in twee geskeur is, die kernprogram van die noorde, sanksies wat ingestel is, en talle ander aspekte wat beide lande direk raak.

Die vermoede bestaan dat genoeg aandag gegee sal word aan die beoogde ontmoeting tussen president Donald Trump en Kim Jong-Un.

Die twee leiers het onderneem om openhartig met mekaar te praat, maar politieke ontleders wys daarop dat Kim Jong-Un op rekord is dat hy nie ’n man is wat sy woord gestand doen nie.

Te midde van al die bespiegelinge en vermoede dat die besprekings tot niks konkreet sal lei nie, het die twee leiers ’n ooreenkoms onderteken wat die “hele Koreaanse skiereiland vry van kernkrag” as mikpunt gestel het.

Die twee leiers het ook onderneem om in Meimaand weer bymekaar te kom vir verdere samesprekings.

Foto – Twee Koreaanse leiers