Oorwinning vir Transnet pensioenarisse

Die Grondwetlike Hof het uitspraak ten gunste van die Transnet-pensioenarisse gelewer, wat hulle die reg gee om met ‘n klasaksie voort te gaan vir ‘n eis van etlike miljarde rande teen Transnet.

Die hofsaak spruit uit beloftes wat die destydse SA Spoorweë aan pensioenarisse gemaak het dat hulle voordele onveranderd sal bly Transnet het egter in 2002 begin om die pensioenarisse se verhogings te verminder tot ‘n skandalige 2% per jaar.

Adv. Anton Alberts van VF Plus, was instrumenteel in die aksie van die pensioenarisse en hy is verheug oor die uitspraak, aangesien die aangeleentheid vir die sowat 40 000 verarmde pensioentrekkers, wat groot lyding deurgaan, ʼn geloofsaak geword het.

“Die VF Plus wil in besonder dankie sê vir die goeie werk wat die onafhanklike regspan in die saak gedoen het wat ʼn deurslaggewende rol in vandag se positiewe uitslag gespeel het.

“Ek het sowat drie weke gelede met minister Pravin Gordhan, oor die saak gepraat en hom gewys op die effek wat dit op Transnet en die staat kan hê indien die Grondwethof teen Transnet sou beslis, soos nou gebeur het.

“Op die minister se versoek het ek ‘n skrywe aan hom gestuur waarin die hele aangeleentheid volledig uiteen gesit is. Hy het dit ontvang en het toe reeds begin om die kwessie te ondersoek.

“Die VF Plus sal nou met meer gesag die gesprek met min. Gordhan opvolg sodat hy so gou doenlik met die regspan in gesprek kan tree om hopelik ‘n spoedige en billike skikking te beding vir onmiddellike verligting vir die pensioenarisse,” sê adv. Alberts.

Transnet het nou 20 dae om appèl aan te teken teen die groepsgeding.