Onteiening vernietig demokrasie

ʼn Ware demokrasie se waarde lê daarin dat dit vryheid vir al sy burgers in ʼn land bied.

Die leier van VF Plus, dr. Pieter Groenewald, sê die ANC, veral met sy aanvaarding van die beginsel van onteiening sonder vergoeding, bedreig en vernietig egter met sy optrede een van die hoekstene van ʼn demokrasie en is daarom ʼn bedreiging vir ʼn ware demokrasie deurdat hy die vryheid van sy burgers ontneem.

“Veral die Afrikaner se demokratiese regte soos die reg op moedertaal-onderwys word bedreig in ag genome die uitspraak van die Grondwethof oor die gebruik van Afrikaans en Engels by die Universiteit van die Vrystaat, asook die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, se aanslag op Afrikaans.

“Hierdie aanslag bedreig direk die vryheid van ʼn sekere segment van die burgers van Suid-Afrika, in besonder alle Afrikaanssprekendes.

“Onteiening sonder vergoeding bedreig die vryheid van elke inwoner in die land wat eienaar is van eiendom, en is ʼn oortreding van die Verenigde Nasies (VN) se Handves en Internasionale Deklarasie van Menseregte.

“Die ANC is skynheilig deur ʼn groot ophef daarvan te maak dat hy kwansuis Suid-Afrika bevry het en vryheid vir al sy burgers gevestig het aangesien hy as regering tans besig is om demokrasie en die ware vryheid van sy burgers te vernietig,” sê dr. Groenewald.