Noordwes Gesondheid onder administrasie

Byna ʼn jaar nadat die VF Plus die eerste keer ʼn dringende beroep op die regering gedoen het om in te gryp in die haglike gesondheidsdiens van Noordwes, is dié provinsie se departement van gesondheid onder administrasie van die nasionale regering geplaas.

Dit volg knap na die onlangse klopjag op die kantoor van premier Supra Muhamopelo te midde van bewerings van korrupsie met betrekking tot ʼn kontrak ter waarde van sowat R200 miljoen vir mobiele kliniek-eenhede wat Mediosa Health, ʼn maatskappy met beweerde Gupta-bande, van die provinsie se gesondheidsdepartement gekry het.

VF Plus parlementslid, Wouter Wessels, sê dié party het reeds in Mei verlede jaar die probleme in die provinsie se gesondheidsdienste puntsgewys behandel wat ʼn skokkende prentjie van totale verval op elke gebied geskep het.  “Dié situasie was toé reeds so benard dat dienste feitlik tot ʼn stilstand gekom het wat ʼn lewensbedreigende risiko vir alle siek mense in Noordwes ingehou het.

“Vroeër vandeesmaand het die VF Plus opnuut gewaarsku dat die situasie rampspoedige gevolge gaan hê indien daar nie onmiddellik ingegryp word nie. Dit was toe die staking van personeel by die Nehawu-mediese depot daartoe gelei het dat geen medisyne by verskeie klinieke en hospitale in Noordwes gelewer kon word nie.

“Die regering het nou eindelik opgetree, al is dit ʼn jaar te laat. By die VF Plus bestaan geen twyfel nie dat hierdie situasie vir baie siek pasiënte met chroniese behoeftes wel noodlottig was nie,” sê mnr. Wessels.