Neem aan VVK verkiesing deel en verwerp grondonteiening

Eie verkiesings bly een van die sterkste vreedsame vorms van weerstand teen en verwerping van die heersende politieke bedeling. Daarom behoort alle  vryheidgesinde volksmense en by uitstek ook diesulkes wat nie staatsdiefstal van eiendom aanvaar nie deel te neem aan die Volksraad-verkiesing op 13 Oktober 2018.

So sê mnr. Christo Snyman, die voorsitter van die Volksraad Verkiesingskommissie (VVK).

Hy doen ‘n beroep op volksgenote om hulle Volkseie Verkiesing Kommissie te ondersteun en te registreer as kieser indien mense nie reeds geregistreer is nie. Die webwerf kan besoek word by www.vvk.co.za vir meer inligting.

Mnr. Snyman wys daarop dat die wettige eienaars van grond geen sê in die besluit  oor onteiening sonder vergoeding gehad het nie. “Die Parlement het besluit. Verteenwoordigers in ‘n parlement waar 241 parlementslede diefstal aanvaar met 83 daarteen, terwyl die liberale DA buite stemming gebly het! Die harde werklikheid is dat honderde duisende grondeienaars aan geen politieke party behoort nie! Die mosie oor grondonteiening is weer eens ‘n bewys dat SA se grondwetlike demokrasie misluk het. Die wenner neem alles!”