Nasionaliste wen weer in Hongarye

Die nasionaliste onder leiding van Hongarye se eerste minister, Viktor Orban, het weer ’n klinkende oorwinning by die stembus behaal.

Alhoewel die geliefde leier se oorwinning nie as ’n verrassing gekom het nie, was die merkwaardige die nuwe ondersteuning wat die premier ’n sterker meerderheid gegee het in die parlement.

Premier Orban het nou 133 van die 199 setels gewen wat aan hom ’n 66,8% meerderheid gee, terwyl ’n tweede nasionalistiese party 20% van die stemme getrek het.

Die linkse Sosialiste kon slegs 12% van die stemme op hom verenig, wat ’n aanduiding is dat Hongarye al meer steun op nasionalistiese beginsels.

Premier Viktor Orban is vir ’n derde termyn gekies, en het in sy toespraak die dag voor die verkiesing, aan duisende gesê die verkiesing sal die toekoms van Hongarye as onafhanklike staat bepaal.

Die nasionalistiese premier is bekend daarvoor dat hy sterk gekant is teen die Europese Unie se immigrante beleid, en het reeds verskeie kere swaarde gekruis met die leiers in die oorkoepelende liggaam.

Hy het ook die land se volle steun aan die regering van Pole gegee toe die EU gedreig het om strafmaatreëls teen die land in te stel, en die EU gewaarsku dat Hongarye enige maatreël sal veto wat teen Pole ingestel sou word.

Premier Orban gaan met ’n groter meerderheid sy derde termyn binne, en sal soos in die verlede, sy beloftes aan die kiesers stiptelik nakom.

Intussen is verneem dat die Sosialiste leier bedank het na die verpletterende nederlaag van die verkiesing.

Foto – Eerste minister Viktor Orban