Motorrubriek – Toyota Yaris 1,5 Sport

Van dag een af toe die Yaris sy verskyning op SA se paaie gemaak het, was dit ‘n baie gewilde motor. Aanvanklik was dit slegs beskikbaar met ‘n 1,3 liter kragbron maar met die jare is dit vergroot na 1,5 liter.

Die nuutste weergawe 1,5 liter Yaris Sport beloof om net so ‘n gewilde motor te word as die vorige model. Daardie ekstra krag is altyd welkom. Met 79 kW krag en 140 Nm wringkrag kan die dorp/stad/snelweg met gemak aangepak word.

Op die snelweg is die “klein” buks eintlik in sy element en kan daar met gemak by die 120km/u snelheidsperk gehou word. Indien jy bietjie oorywerig is kan jy selfs in die moeilikheid beland want volgens ingeligte bronne is dit in staat tot ‘n topsnelheid van 180 km/u. Selfs op paaie met minder goeie padoppervlakte is die padhouvermoë van ‘n hoë standaard.

Dit word in Thailand gebou en is aansienlik groter as die oorspronklike Europese model. Daar is vyf verskillende modelle beskikbaar en daar is selfs ‘n Cross model beskikbaar. Die 1,5 liter, vier silinder, inlyn kragbron is in al die modelle gepas en die rooilyn op die toereteller begin by 6000 o.p.m. Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 5,9 l/100 km. Die 1,5 Xs CVT is die enigste model wat beskikbaar is met ‘n outomatiese ratkas en dit kan uitgeken word aan die donker metaalkleurige sierrooster, ‘n drukvlerk aan die agterkant as ‘n verlengstuk van die dak en die haaivin lugdraad wat op die dak gemonteer is.

Wat dit duidelik onderskei van die vorige model is aan die voorkant by die neusgedeelte. Daar is ‘n plastiek inlegsel tussen die kolligte, die sierrooster en die hoofligte. LED ligte is gedurende dag aangeskakel en dit verseker dat die motor meer opmerkliker is. Daar mag eienaars wees wat nie daarvan hou nie maar hierdie is ‘n ingeboude veiligheidsmaatreël.

Binne-afwerking is van hoogstaande gehalte en dit is duidelik dat Toyota se ontwerpers deeglike huiswerk gedoen het om die eienaar van die motor tevrede te stel. Die Sport model bevat al die toerusting wat benodig word wat insluit ‘n radio, lugversorger, aanraakskerm satelliet navigasiestelsel en nog talle ander handige stukke toerusting.

In die Sport model is leerbedekte sitplekke gepas en die nate is met rooi stiksel gedoen wat die sitplekke netjies afwerk. Die stuurwiel en die rathefboom is ook met rooi stiksel afgewerk. Die instrumente is reg voor die bestuurder gemonteer terwyl in vroeër modelle was die instrumente in die middel van die instrumentpaneel gemonteer en was dit nodig, indien die instrumente bestudeer moet word deur die bestuurder, om vir ‘n gedeelte van ‘n sekonde sy oë van die pad af te neem.

Tussen die agterste en voorste sitplek is daar meer as genoeg beenspasie vir selfs langer passasiers en kan ‘n gemaklike sit posisie maklik ingeneem word. Volgens Toyota is die bagasiebak se ruimte met 85 % vergroot en kan daar aansienlik meer bagasie ingepas word. Die bagasiebak se deksel maak groot oop en bagasie kan met min moeite gelaai word. Die agterligte vou om die hoek en gedurende nag is die motor van agter duidelik sigbaar wanneer die ligte aangeskakel is.

Hierdie motor lyk aansienlik meer modern as die vorige model en wanneer dit aangeskaf word sal dit ‘n genotvolle en moeite vrye rit verseker.