Motorrubriek – Honda Civic Type R

Deur die jare het Honda ‘n reputasie opgebou as ‘n betroubare motor en het dit bewys deur sukses te behaal op die renbane van die wêreld, in tydrenne en as ‘n gewone dag tot dag motor.

Die heel nuutste Honda Civic Type R straal ‘n boodskap uit vir sy mededingers dat hulle hul huiswerk sal moet gaan oordoen want hierdie is ‘n moeilike “knaap”. Hierdie is eintlik ‘n sportmotor maar dit is ook ‘n gesinsmotor. Moeder kan dit selfs gebruik om die kinders mee skool toe te vervoer en oral waar dit beweeg trek dit aandag.

Die sierrooster aan die voorkant vertel sy eie storie. Die luginlate met die rooi Honda kenteken, wat uniek is aan die Civic Type R, dra ‘n duidelike boodskap oor. Die buitenste luginlate op die kant van die sierrooster is om te help met die verkoeling van die voorste skyfremme en langs dit is die kolligte gemonteer. Elke bakwerk lyn het ‘n doel en dit is om die motor meer vaartbelyn te maak en die windweerstand te verminder. Die windweerstand se sleurkoëffisiënt is ‘n skamele 0,26. Die onderste lugskort is versier met ‘n rooistreep om die vloeiende lyne te beklemtoon. Dit tesame met die rooi insetsel en die groot wit “R” op die sitplekke, rond dit die afwerking goed af.

Die eerste wat waargeneem word wanneer daar agter om die voertuig beweeg word, is die groot drukvlerk en dit is nie om dowe neute nie. Dit sorg dat die padhouvermoë van hoogstaande gehalte is. Of dit op die gewone pad is en of dit op die snelweg is, dit is iets om te waardeer. Die drie uitlaatpype wat in die middel van die voertuig uitsteek vertel hulle eie storie. Wanneer die motor aangeskakel word, lewer dit ‘n geluid wat ‘n mens hoendervleis gee en wanneer die voertuig in beweging is en die toere word opgejaag, verbeter die klank nog verder.

Wanneer dit by die kragbron kom vertel dit sy eie storie. In die verlede is daar gekonsentreer op hoë toere om werkverrigting te verkry. Deur die gebruik van ‘n turbo-aanjaer is daar meer krag beskikbaar en die twee liter, inlyn vier silinder verskaf maksimum krag van 228 kW en die maksimum wringkrag is 400 Nm en dit is beskikbaar vanaf 2500 tot 4500 o.p.m. Die rooilyn met die beperker kom inwerking by 6500 o.p.m. Wanneer hierdie kragte werklik in werking gestel word neem die versnelling volgens die vervaardiger van 0 tot 100km/u net 5,8 sekondes en die maksimum snelheid is 272 km/u. Die kragbron is verbind aan ‘n vyfspoed handratkas en dit dra die krag oor na die voorwiele.

Binne-afwerking is van hoogstaande gehalte en die sitplekke se ondersteuning laat min te wense oor. Met al die verskillende verstellings kan ‘n gemaklike sit posisie ingeneem word en die sitplek gordels sorg vir die veiligheidsaspek. Wanneer daar in die voertuig ingeklim word, word ‘n mens getref deur die uitleg van die instrumentpaneel en kom ‘n mens dadelik onder die indruk dat dit ren geïnspireerd is. Oral op die instrumentpaneel, die rathefboom en ander plekke is daar rooi insetsels wat die indruk van ‘n renmotor verhoog. Die duidelik leesbare instrumente is reg voor die bestuurder gemonteer en kan maklik deur die drie speek stuurwiel gelees word.

Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 8,4 l/100 km maar wanneer die krag ten volle aangewend word verander die prentjie vinnig en die 47 liter wat in die brandstofhouer is, verminder vinnig.

Brembo remme word ingespan om die motor tot stilstand te bring en volgens toetse wat uitgevoer is, is dit in staat om die voertuig van 100 km/u tot o km/u in 2,6 sekondes tot stilstand te laat kom.

Hierdie is ‘n gebruikers vriendelike motor en kan aan alle vereistes met gemak voldoen. M.a.w. indien jy ‘n gesinsmotor of renmotor benodig, kan u gerus ‘n Civic vir ‘n toetsrit neem.