Land in chaos dag 2

Die chaos in die land het sy tweede dag binnegegaan, met sogenaamde protesoptogte wat gewelddadig en barbaars word.

Chaos 1

‘n Tweede gebou is op Keiskammahoek in die Oos-Kaap aan die brand gesteek, nadat ‘n munisipale kantoor reeds aan die brand gesteek is. Die jongste geval van brandstigting raak ‘n weeshuis. Besighede is steeds gesluit uit vrees dat hulle geplunder sal word deur die woedende hordes.

Chaos 2

Onrus het in Noordwes uitgebrei na Stella waar die kantore van die Naledi-munisipaliteit aan die brand gesteek is. Skole is ook gesluit. Daar word geëis dat HOP-huise voorsien moet word en dat premier Supra Mahumapelo moet bedank.

Chaos 3

Skole in die Mahikeng, is vir die vierde dag sedert verlede week ontwrig in die voortslepende protes in die provinsie. Winkels van veral buitelanders is geplunder en sommige is aan die brand gesteek, terwyl paaie ook versper is.

In ‘n verstommende stap is 33 van die betogers wat van openbare geweld aangekla is tydens die gewelddadige betogings in Mahikeng, slegs op waarskuwing vrygelaat nadat hulle in die Molopo-landdroshof verskyn het.

Chaos 4

Bothaville in die Vrystaat, wat hom regmaak vir die jaarlikse Nampo-skou, het ook onder geweld deurgeloop en 23 mense is in hegtenis geneem.  Winkels is geplunder en sommige is afgebrand, en `n vragmotor-sleepwa van die munisipaliteit is ook aan die brand gesteek.

Chaos 5

In Sinqobile by Barberton in Oos-Transvaal het die polisie ‘n aantal geweldplegers in hegtenis geneem na betogings teen die Fairview-myn in die omgewing.  Daar heers ontevredenheid omdat skynbaar geen plaaslike inwoners by die myne in diens geneem word nie, en nou word die bedanking van die mynbestuurder van menslike hulpbronne, Sello Mashabela, geëis.

Chaos 6

Noordwes se betogings het ook na Christiana en Bloemhof uitgebrei waar winkels van buitelanders in die Utlwanang-woongebied geplunder is. Meer as vyftig buitelanders het in die polisiekantoor in Christiana gaan skuil. In Boitumelong by Bloemhof is die winkels van buitelanders gesluit nadat hulle ook deurgeloop het.

 

Chaos 7

Ook die Kaapse Skiereiland spring nie die chaos van die res van die land vry nie.

Omgekrapte inwoners van Eagle Park het verskeie paaie met brandende bande versper en voertuie in Pelican Park met klippe bestook. Hierdie protes gaan oor die gebrek aan behuising.