Konserwatiewes wen in Paraguay

Met 98% van die stemme getel in die naweek se presidentsverkiesing van Paraguay het die verkiesingskommissie bekendgemaak dat die konserwatiewe kandidaat van die regeringsparty, die wenner is.

Mario Abdo Benitez het die meeste stemme getrek met 46,5% teenoor die 42,7% van die opposisieparty se kandidaat.

Die verkiesing van Mario Abdo Benitez word egter deur talle as ’n fout bestempel aangesien daar twyfel bestaan oor sy bekwaamheid om die land te lei.

Hy word ook bevraagteken omdat hy die seun is van ’n diktator wat nie gewild was nie, maar die wenner sê hy sal alles moontlik doen om sy verkiesingsbeloftes na te kom ter wille van die kiesers.

Mario Abdo Benitez het sy veldtog gevoer deur te onderneem om korrupsie uit te roei in die land waar dit vir dekades hoogty vier, maar kenners sê dit is ’n onmoontlike saak omdat korrupsie reeds ’n tweede natuur geword het by die grootste deel van die bevolking.

Hy het ook onderneem om ’n sterk demokratiese bestel te vestig wat sal meedoen om korrupsie te beveg.

Verlede jaar is die land 135ste geplaas uit die 180 lande wat getoets is vir hulle korrupsie bedrywighede.

Foto – Mario Abdo Benitez