Kanselier Merkel op besoek in VSA

Die stof het nog nie gaan lê wat veroorsaak is deur die besoek van die Franse president, Emmanuel Macron, aan die Wit Huis nie, of die Duitse Bondskanselier maak haar opwagting.

Kanselier Angela Merkel se aankoms by die Wit Huis is met groot belangstelling dopgehou vanweë die stram verhouding tussen die twee leiers en die dreigende gevaar van verswakking in die handelsbetrekkinge weens die Trump-beleid oor vrye handel.

Dit is die tweede besoek van Angela Merkel sedert president Trump in die Wit Huis is, en die vorige besoek in Maart verlede jaar, was nie sonder haakplekke nie.

Die ontmoeting tussen president Donald Trump en kanselier Angela Merkel in Washington, het waarskynlik ook ten doel om hom te versoek om nie te peuter aan die kernkrag ooreenkoms wat vroeër aangegaan is met Iran nie.

Dit is opvallend dat Merkel geskeduleer is vir ‘n drie uur lange gesprek met president Trump, wat daarop dui dat dit slegs ’n poging sal wees om die vrye handel en die kernkrag verdrag is wat heel bo op die sakelys is, te red.

Merkel en Macron van Frankryk hoop waarskynlik dat hulle gesamentlike pogings die Trump regering sal oorreed om voor die G7 beraad plaasvind, ’n verklaring uit te reik oor die twee sake wat Europa ten nouste raak.