Groente word gekweek in Antarktika

Duitse wetenskaplikes het hulle eerste oes van groente gekry wat in ’n kunsmatige “groen huis” gekweek is in die hartjie van die yskoue Antarktika.

Die kweekhuis wat sonder daglig funksioneer, en nie gebruik maak van grond waarin die plante gekweek word nie, blyk ’n reuse sukses te wees.

Die bedoeling is om daarmee toetse uit te voer wat in die buitenste ruimte toegepas kan word wanneer mense by ’n halfwegstasie op Mars aanland.

Die toetse dien ook as moontlike toekomstige oplossing in die kouer dele van die wêreld wat tot nou hulle groente moet invoer uit ander lande.

Blaarslaai, komkommer en radyse is slegs enkele soorte groente wat met groot sukses gekweek is in die eksperiment in Antarktika waar die kwik tot minus 20 grade Celsius gedaal het en geen sonlig in die kweekhuis kom nie.

Lig en hitte is kunsmatig opgewek, en die moontlikheid van peste en plae was uitgesluit weens die erge lae temperatuur, wat die produksie soveel meer suksesvol gemaak het.