Franse vervoerdiens in chaos

Die treindiens in Frankryk het letterlik tot stilstand gekom nadat werkers grootskaals begin staak het uit protes teen die president, Emmanuel Macron, se hervormingsbeleid.

Dit is reeds die derde staking vanjaar van vervoerdiens werkers wat beswaar opper teen Macron se omstrede hervormings.

Die jongste staking van twee dae het Frankryk in chaos gedompel toe van die hoof sneltrein dienste slegs een uit elke vyf treine diens gelewer het.

Minstens 65% van alle treindienste se geskeduleerde roetes is gekanselleer wat duisende pendelaars gedwing het om van padvervoer gebruik te maak, wat noodwendig ’n oorbelading op die paaie tot gevolg gehad het.

Die treinreise na Duitsland is ook tot stilstand gedwing en slegs een uit elke sewe treine was beskikbaar, wat menige werkers gedwing het om van padvervoer na die buurland gebruik te maak.

Die president kry ook teenstand uit landbou geledere, en studente het by verskeie universiteite betoog en beswaar gemaak teen die hervorming wat beoog word.