Duitse hof beslis oor Puigdemont

In die Duitse hooggeregshof het ’n regter beslis dat Carles Puigedemont nie skuldig bevind is aan ’n rebellie nie en gevolglik nie daarvoor na Spanje gedeporteer kan word nie.

Die afgesette minister-president van die Spaanse deelstaat Katalonië was onderweg uit Skandinawië na België toe hy deur die Duitse polisie gearresteer is.

Die Spaanse regering het ’n internasionale uitleweringsbevel uitgereik, maar verskeie Europese lande verskil oor die wettigheid van die bevel.

Puigemont wat die leier is van die separatiste in Katalonië, moes na die onafhanklikheid van die deelstaat uitgeroep is, na België uitwyk om nie in hegtenis geneem te word deur die Spaanse owerheid nie.

Die hofbeslissing in Duitsland word beskou as ’n erge terugslag vir die Spaanse regering, maar kenners meen die Spaanse eerste minister Rajoy sal nuwe aanklagte formuleer om ’n uitlewering te verseker.

Kenners meen die Spaanse regering sal ’n aanklag van korrupsie opstel omdat die separatiste ’n referendum gehou het met geld uit die streek se geldlaai.

Die Duitse hof het ook beslis dat Puigdemont nie langer in aanhouding mag wees nie en onverwyld vrygelaat moet word.

Intussen het Carles Puigdemont  ’n beroep gedoen op Madrid om respek te toon vir die demokratiese stelsel en gevra dat hulle met hom in gesprek moet gaan om die verskille uit die weg te ruim.

Kenners meen die Spaanse regering het nou reeds soveel aspekte van die voorval verkeerd hanteer dat dit die regering in ’n baie swak lig stel volgens buitelandse oordeel.

Foto – Carles Puigdemont