Wit Huis Kommunikasiehoof bedank

Kort nadat die hoof van die Wit Huis se kommunikasie afdeling erken het dat sy verskeie kere ’n “wit leuen” vertel het om die president te beskerm, het sy haar bedanking ingedien.

Hope Hicks het vir president Donald Trump begin werk lank voordat hy sy veldtog begin het as kandidaat vir die presidentsverkiesing.

Sy het Donderdag haar bedanking bekend gemaak nadat sy in ’n nege uur sessie deur parlementariërs onder kruisverhoor geneem is.

Die politici vorm deel van die ondersoekers wat steeds werk aan die Russiese inmenging in die 2016 presidentsverkiesing van Amerika.

Hope Hicks is een van die president se grootste vertrouelinge en was regdeur haar dienstyd baie lojaal aan die president.

Vroeër was sy ’n bekende model en uitvoerende beampte van openbare betrekkinge, en het sy haar onderskei as ’n besonder bekwame en lojale werker.

Die vermoede bestaan dat die 29-jarige dame ’n senior aanstelling in die Trump maatskappy sal kry waar sy ewe goeie werk kan verrig.

Foto – Hope Hicks