Walvisse spoel uit op Australiese strand

’n Skool van sowat 150 walvisse het op die westelike strand van Australië uitgespoel wat honderde vrywilligers gedwing het om reddingswerk te probeer doen.

Die ramp het sowat 300 kilometer van Perth gebeur naby Hamelin Bay, en die omgewing is vir besoekers gesluit terwyl die reddingswerk vir ure voortgeduur het.

Die reddingswerkers kon egter nie veel uitrig nie, en uiteindelik is ses diere weer veilig in die see losgelaat, maar die meeste van die ander het reeds halfdood uit die see op die strand beland.

’n Woordvoerder van die Wes Australiese owerheid het gesê die omstandighede was uiters moeilik en daarom kon min diere gered word.

Die spesifieke soort walvis word tot 5,5 meter lank en leef in tropiese tot subtropiese water en bly graag in groepe van tot meer as 100 diere.

Dit is nie die eerste keer dat so ’n skool op die strand uitspoel nie, en deskundiges is nie seker oor die werklike rede waarom die diere “selfmoord” pleeg nie.