VSA stel sanksies in teen Rusland

Die Verenigde State van Amerika het ’n verklaring uitgereik dat sanksies teen Rusland ingestel word weens die land se inmenging in die presidentsverkiesing van 2016 en die inbraak wat gemaak is op rekenaarstelsels.

Die sanksies raak ’n wye verskeidenheid goedere en talle individue word geraak deur die sanksies wat ook beskou word as ’n ondersteuning van die Britse optrede weens die moorde in Londen.

Van die belangrikste instansies wat geraak sal word is die Russiese Federale Sekuriteit Dienste en die Hoof Intelligensie Direktoraat sowel as die Internet Navorsingsagentskap.

Die agentskap is onlangs geïdentifiseer deur die Amerikaanse ondersoekspan onder leiding van Robert Mueller as een van die strukture wat gebruik was om in te meng in die verkiesing van Amerika.

Direkteure en senior beamptes van die Russiese organisasies word ook geraak deur die sanksies weens hulle betrokkenheid in die presidentsverkiesing.