VSA lewer afweerstelsels aan Oekraïne

Die regering van president Donald Trump van Amerika het goedkeuring verleen dat ’n afweerstelsel teen oorlogtenks aan die Oekraïne gelewer mag word.

Die waarde van die wapentuig word op sowat $47 miljoen gestel en word glo aangekoop om hulle te beskerm teen Russiese aggressie.

Javelin missiele sal die land beskerm teen tenk invalle uit die naburige Rusland en is ’n volgende stap om die verdediging se toerusting op te bou.

Die Amerikaanse regering het egter ’n 30 dae klousule wat lewering kan blokkeer, maar die verwagting is dat die reël nie toegepas sal word nie.

Vroeër het die VSA slegs ligte wapentuig aan die Oekraïne gelewer, en verskaffing van mee gesofistikeerde wapentuig word nou ook deur die Demokrate goedgepraat.

Die Oekraïne is in ’n stryd gewikkel teen pro-Russiese rebelle wat die Krim-gebied geannekseer en onafhanklik verklaar het, en ten noorde daarvan, op die grens met Rusland het die rebelle ook ’n groot gebied geannekseer waar hewige gevegte losgebars het in die afgelope maande.

Sedert 2014 het meer as 10 000 mense omgekom in gevegte aan die oostelike kant van die Oekraïne wat grens aan Rusland.