Vrae oor Sjinese plan met Daimler

Dit is nie net konserwatiewe denkers in Duitsland wat ernstige vrae het oor die Sjinese motorvervaardiger Geely se massiewe beleggingsplan in die Mercedes Benz maatskappy nie.

Van die werknemers verteenwoordigers van Daimler se waarnemerspan het gesê hulle sal die betrokkenheid van Geely as belegger in Daimler met valkoë dophou, want beskerming van werkers se belange by die verskillende aanlegte is belangrik.

Drie dae gelede het die Sjinese motorvervaardiger Geely bevestig dat hulle byna ’n 10% aandeel bekom het in Daimler, wat die werkers se raad laat reageer het met die opmerking dat hulle sal kyk na wat Geely se langtermyn strategieë is met die belegging.

Duitse gesaghebbendes het verlede week daarop gewys dat groter versigtigheid aan die dag gelê moet word om nie Duitse nywerhede in die hand van Sjina te laat nie, want dit is ’n seker manier om Duitse tegnologie te buit.

Dit is bekend dat die Sjinese Geely vervaardiger se gehalte veel te wense laat, en waarnemers meen die belegging is ’n metode om Duitse tegnologie te bekom.

Onbevestigde berigte lui dat Geely nou die grootste aandeel in Daimler besit.

Foto – Geely voertuig