Trump stel nuwe adviseur aan

Na die bedanking van die Amerikaanse finansiële adviseur van president Trump weens die staatshoof se nuwe beleid oor invoerbelasting, is Larry Kudlow aangewys as adviseur.

Verskeie waarnemers het Larry Kudlow beskryf as die senior ekonomiese adviseur wat wel baie lojaal is as Republikein, maar miskien nie in dieselfde liga as sy voorganger speel nie.

Larry Kudlow het intussen bevestig dat hy die aanbod van president Trump aanvaar het, en bevestiging sal waarskynlik Donderdag deur die Wit Huis  bekragtig word.

Dit is die hoeveelste senior aanstelling wat Trump moes maak weens sy geneigdheid om posbekleërs af te dank.

Waarnemers wys daarop dat dit die eerste Amerikaanse president is wat mense so maklik afdank, en soms omdat daar ’n verskil in mening ontstaan het oor ’n bepaalde aangeleentheid.

Die afdanking van Rex Tillerson as minister van buitelandse sake is nie goed ontvang deur lojaliste van Trump nie, en meningsvormers is van oordeel dat die Demokrate se oorwinning in Pennsylvania  in die afgelope week ’n direkte gevolg is van die president se swak optrede.

Die president word beskryf as onsensitief en sy optrede om mense af te dank met ’n Twitter boodskap, ’n onaanvaarbare werkmetode is wat nie van die land se president verwag word nie.

Die vorige ekonomiese adviseur, Gary Cohn, word gesien as ’n hoog aangeskrewe adviseur wat nie maklik vervang sal word nie, net soos wat Tillerson ’n hoog aangeskrewe diplomaat was waarvan die gelyke nie maklik gevind sal word nie.

Foto – Larry Kudlow