Trump skrik nie vir handelsoorlog

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die afgelope naweek gesê ’n handelsoorlog is goed wanneer ’n land miljarde dollar verliese ly in sy handel met ander lande van die wêreld.

Die president het die uitlating ook op die sosiale netwerk gedoen na aanleiding van sy aankondiging dat invoerheffings geplaas word op staal en aluminium uit ander lande.

Sy opmerking kom as direkte verwysing na Amerika se voortdurende verliese weens die geweldige invoerrekening teenoor ’n veel minder uitvoerbalans.

Hy wys as voorbeeld daarop dat indien 100 miljard dollar verlies realiseer vir ’n land dan is dit waarskynlik beter om minder sake te doen sodat die verliese kan verminder.

Invloedryke ekonome sê president Trump se standpunt en ’n handelsoorlog kan die wêreld se ekonomie goed doen, alhoewel dit nie nou reeds volledig uiteengesit kan word wat die eindresultaat sal wees nie.

Die president wat ’n bekende Amerikaanse miljardêr is, sê ’n handelsoorlog word verwelkom en sal maklik gewen word.

Amerika is egter afhanklik van staal en aluminium uit ander lande weens die stygende binnelandse vraag waarin die land nie kan voorsien nie.