Sjina maak gereed vir handels-oorlog

Die Sjinese regering het die naweek ’n lys met 128 name van Amerikaanse produsente opgestel wat moontlik gevries sal word as president Trump sy handelsoorlog begin.

Die naamlys bevat ondermeer vervaardigers van staalpype tot by die uitvoerders van varkvleis na Sjina, en kan die VSA soveel as $3 miljard per jaar uit die sak jaag.

Sjina maak gereed om ’n teenvoeter te vind nadat die Verenigde State van Amerika aangedui het dat hy ’n stewige invoerheffing gaan instel teen ondermeer die invoer van Sjinese staal en aluminium.

President Donald Trump het die afgelope week sy plan bekendgemaak om die heffing op Sjinese invoere te verhoog, en daarmee ’n handelsoorlog begin wat vêrreikende gevolge kan inhou vir beide lande.

Die Amerikaanse president het egter vroeër aangedui dat hy uitsien na ’n handelsoorlog “wat Amerika maklik sal wen”.

Sjina voer egter veel meer uit na Amerika as wat hulle invoere beloop, wat een van die belangrikste redes is waarom president Trump ’n handelsoorlog sal begin, want die VSA het jaarliks miljarde dollar verloor aan invoere uit die kommunistiese land.