Rusland woedend oor Britse beskuldiging

Die Russiese minister van buitelandse sake, Sergey Lavrov, het woedend gereageer op die aankondiging van die Britse premier dat 23 diplomate teruggestuur word na Rusland.

Eerste minister Theresa May het Vrydag aangekondig dat 23 Russiese personeel by die land se ambassade geïdentifiseer is as spioene en binne ’n week die land moet verlaat.

Minister Lavrov het Vrydag gesê daar bestaan geen bewyse dat Rusland betrokke was by die Londen moorde nie, en oorweeg dit nou om die Britse diplomate terug te stuur na hulle land.

Rusland het gesê die reaksie van ander Westerse lande en hulle veroordeling van Rusland is soos water op ’n eend se rug, want die Poetin regering is onskuldig en word vals beskuldig deur Brittanje.

Dmitry Peskov, die segspersoon van president Vladimir Poetin het gesê die land sal later amptelik reageer op die handeling van Brittanje.

“Ons het nog nooit hierdie vlak van gesprekvoering gehad met enige land ter wêreld nie”, het Dmitry Peskov gesê.

Die ernstige geskil tussen die twee lande kom nadat Rusland daarvan beskuldig is dat hy betrokke is by die moord op ’n dubbelagent wat in Londen gewoon het sowel as op ’n voormalige Russiese spioen, Sergei Skripal, en sy dogter wat ook in Brittanje gewoon het.

Politieke ontleders sê die verhouding tussen die twee lande is nou soortgelyk as wat dit tydens die Koue Oorlog was, en sal nie baie gou verbeter nie.

Saterdag het die Russiese minister van buitelandse sake gesê Rusland stuur nou ook 23 Britse diplomate terug, en hulle kry slegs ’n week kans om die land te verlaat.

Om aan te toon dat die Britte se optrede hulle nie aanstaan nie, het die Minister ook gesê die Britse konsulaat in Rusland word gesluit.

Foto – Minister Sergey Lavrov