Rusland weier betaling aan Europese Raad

Rusland het sonder ’n vooraf waarskuwing besluit om sy verpligting aan die Raad van Europa terug te hou wat nou reeds die sperdatum bereik het.

Die optrede van Rusland word toegeskryf aan die Raad se handeling om die Russe se afgevaardigde se stemreg te kanselleer.

Turkye het kort daarna ook kennis gegee dat hy nie bereid is om sy verpligte lidmaatskapgeld te betaal nie.

Die optrede kan daartoe lei dat die Raad van Europa binnekort in ’n finansiële krisis beland.

Rusland het besluit om die sperdatum van 28 Februarie te ignoreer wat van hom vereis om 11 miljoen euro te betaal van sy totale rekening ten bedrae van 33 miljoen euro.

Moskou het besluit om ook die bedrag van 22 miljoen euro wat verskuldig is vir Junie 2017, eerder aan ’n menseregte struktuur te betaal.

Deskundiges sê die weerhouding van sulke bedrae kan die Raad se finansies ’n ernstige knou gee wat werksaamhede negatief gaan beïnvloed.

’n Russiese woordvoerder het later gesê sy land is te alle tye bereid tot dialoog, maar is tog daarvan oortuig dat as sy reg om ’n bydrae in die besluitneming proses te maak, van hom weggeneem word, dan is dit sekerlik ook reg dat die rekening nie betaal word nie.

Koerante in Europa het reeds maande gelede rapporteer dat Rusland dit oorweeg om te onttrek by die Menseregte Raad in Europa.

Sowat 47 lande is lid van die Menseregte Raad vir Europa, maar talle is ontevrede oor die optrede van die liggaam en dreigemente van onttrekking word dikwels gehoor.