Republiekvlag laai gemoedere op

Die PAC het aangesluit by die Nelson Mandela stigting om die ou Republiekvlag te verban. Volgens hulle is die vlag ‘n simbool van wit oppergesag en beklemtoon die minderwaardigheid van die swart kind.  Die vlag is vir hulle ook ‘n “simbool van misdaad teen die mensdom en die verkragting van vrouens deur die veroweraars”.

Daarteenoor het die HNP aangedui dat hy die Nelson Mandela Stigting se aansoek by die Gelykheidshof dat die vertoon van die Oranje Blanje Blou (die ou landsvlag) haatspraak, onbillike diskriminasie en teistering gebaseer op ras is, ten sterkste sal teenstaan.

Mnr. Peet Joubert, onderleier van die HNP, sê die aansoek is niks anders nie as ‘n daad van haat teen die Afrikaner en die Witman en dus haatspraak op sigself. Hierdie aansoek is deel van ‘n totale aanslag teen die Afrikaner. Hierna sal die verwydering van alle ander simbole volg, soos die sing van Die Stem van Suid-Afrika, om alles van die Afrikaner van hom weg te neem.

Suid-Afrika het op 31 Mei 1928 sy eie vlag amptelik in gebruik geneem: die Oranje Blanje Blou. Dit is vanjaar op 31 Mei 90 jaar gelede. Dit moet vanjaar luisterryk landwyd met die vertoon van die vlag herdenk word.

“Hierdie vlag is vir ons ‘n simbool van orde, beskawing, vooruitgang, vryheid, respek vir kulturele verskille en ‘n Christelike bestel. Die vlag wat die ANC op ons afdwing, is ‘n simbool van verdrukking, moord, wanorde, verval, kultuurvertrapping, rassehaat en ‘n antichristelike bestel.

“Die algemene grondslag wat vir die Suid-Afrikaanse vlag gestel was, was dat dit moes getuig van eenheid en dat dit ‘n juiste weergawe van Suid-Afrika se staatsregtelike posisie moes wees. Die verkryging van die Nasionale Vlag was ‘n belangrike stap in die rigting van staatkundige selfstandigheid, vryheid en onafhanklikheid.

“Onder dié vlag het Suid-Afrika na Republiekwording ‘n absolute vrede beleef: “‘n voorbeeld van skitterende vrede op ‘n beroerde kontinent”, soos die Rand Daily Mail op 30 Julie 1966 geskryf het. Daar was ‘n groeiende eenheid in volksgeledere. Die land het ‘n ongekende bloeitydperk op ekonomiese gebied beleef.

“Onder die Oranje Blanje Blou is die stryd teen die kommunisme geveg en onder die gewapper daarvan het ons soldate roem verwerf.

“Ons mag nie toelaat dat nog ‘n stuk van ons geskiedenis uitgewis word nie,” sê mnr. Joubert.