Ramaphosa moet plaasaanvalle aanvat

Die ANC-regering wat so ywerig is om Suid-Afrika se geskiedenis te verdraai om emosie oor die grondkwessie op te wek, moet eerder kennis neem van die harde werklikheid van plaasaanvalle en -moorde en vir eens daadwerklike stappe neem om dit hok te slaan, sê die leier van VF Plus, dr. Pieter Groenewald.

Dr. Groenewald het die statistiek van TLU SA aangehaal waaruit dit blyk dat daar vanjaar al 42 aanvalle en ses moorde op plase was.  “Net hierdie week is twee bejaardes wreed vermoor.

“Maandag is die 72-jarige me. Hentie van der Vyfer in haar woonhuis op ʼn plaas naby Ermelo in Mpumalanga oorval en vermoedelik verwurg.

“Dinsdagaand is die 68-jarige mnr. Hannes Christie van Coligny in Noordwes met ʼn skerp voorwerp, vermoedelik ʼn byl, doodgekap.

“Verlede jaar was daar 423 plaasaanvalle in Suid-Afrika waarin 82 mense vermoor is. Talle mense is in die aanvalle beseer en verkrag. Dit kan aanvaar word dat talle plaaswerkers na die aanvalle werkloos gelaat is.

“Wat verlede jaar se syfers aanbetref, kom die 423 aanvalle neer op 35,25 per maand. Meer as een elke dag van die jaar. Elke 4,3 dae is iemand op ‘n plaas vermoor.

“Twintig jaar gelede was daar 70 000 kommersiële boere in Suid-Afrika. Daar is nou sowat 30 000 oor.

“Die VF Plus sal met pres. Cyril Ramaphosa aan die stuur van die regering hernieude druk op die regering plaas om plaasaanvalle tot ʼn prioriteitsmisdaad te verklaar en aktief planne te beraam om dit hok te slaan.

“Indien daar steeds niks aan gedoen word nie, sal dit as bewys dien dat pres. Ramaphosa weer eens net leë beloftes maak en nie ernstig is om misdaad te bekamp nie,” sê dr. Groenewald.