Polisie MOET klagtes van grondbesetting aanvaar

TLU SA het kennis geneem dat die SAPD op sommige plekke verwag dat grondeienaars ‘n hofinterdik en afsettingsbevel (op eie koste) moet bekom as eiendom onwettig beset word. Die Gauteng premier neem dieselfde standpunt in.

Genl. Chris van Zyl, assistent hoofbestuurder van TLU SA, sê hy is van mening dat ‘n grondeienaar nie ‘n interdik kan bekom vir “ingeval” besetting dalk gaan plaasvind nie.

Hy het boere wat deur grondbesettings gekonfronteer word aan te moedig om aan te dring dat die SAPD die kwessie as “Betreding” moet hanteer en ingevolge bestaande wetgewing, teen die oortreders moet optree, hulle verwyder, aankla en vervolg.

Volgens riglyne van die adjunkkommissaris van polisie, luitenant-generaal SF Masemola, gedateer 30 Maart 2017, aan stasiebevelvoerders, word dit duidelik gestel dat geen polisiebeampte ‘n klagte van betreding mag weier as dit gemaak word nie, mits die struktuur wat onwettig op die grond opgerig word, nog nie voltooi en betrek is nie. Betreders moet dan gearresteer word.

Intussen het mnr. Philip van Staden, VF Plus lid in die Gautengse wetgewer, ook premier David Makhura se oproep, dat alle munisipaliteite, provinsiale departemente en grondeienaars gereed moet staan met interdikte om die onwettige gryp van grond in Gauteng te beveg, ten sterkste veroordeel.

Volgens mnr. Van Staden het Makhura reeds met sy provinsiale rede vroeër hierdie maand die tafel in Gauteng gedek vir grondgrype om plaas te vind. Makhura het tydens sy provinsiale rede openlik die nasionale regering se beleid van grondonteiening sonder vergoeding gesteun.

“Premier Makhura het nou alle grondeienaars in Gauteng vir die wolwe gegooi en hy laat hulle nou aan hul eie lot oor. Hy gee nie om wat met grondeienaars gebeur nie, en plaas die verantwoordelikheid op munisipaliteite en grondeienaars om self op te tree,” sê mnr. Van Staden.

Foto: Genl. Chris van Zyl van TLU SA