Onwettige uitsetting gekeer

Die VF Plus in Gauteng het ʼn inwoner van Pretoria te hulp gesnel wat die afgelope naweek ʼn dertig dae-uitsettingskennisgewing van die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling ontvang het.

Die persoon, wat sedert 1990 op die eiendom woon, is aangesê om die eiendom te verlaat aangesien ʼn nie-bestaande ‘huurkontrak’ wat glo met die departement aangegaan is, nie nagekom is nie. Dit terwyl die persoon die wettige eienaar van die eiendom is met ʼn verband by ʼn bekende finansiële instelling.

Die eienaar van die woning het uit desperaatheid om hulp te kry die kennisgewing op sosiale media geplaas waar die VF Plus se LPW in Gauteng, Philip van Staden, dit opgemerk en dadelik opgetree het om te help.

Hy het ʼn gesprek gevoer met die LUR van infrastruktuurontwikkeling in Gauteng, Jacob Mamabolo, en die skrywe onder sy aandag gebring. Die VF Plus het die bewys van die verbandakte op die eiendom aan die LUR oorhandig en aangedring op ʼn dringende ondersoek rakende die saak.

Die eiendom se verband is sedert 2008 by ʼn bekende finansiële instelling.  Die LUR het onderneem om die saak te ondersoek en ook self met die eienaar in verbinding getree.

Die VF Plus in Gauteng wil graag inwoners van alle eiendomme in Gauteng waarsku om nie enige skrywes van ʼn Gautengse departement sonder meer te aanvaar om ʼn eiendom te verlaat nie. “As jy die wettige verbandhouer op die eiendom is of die eiendom is reeds afbetaal en by die aktekantore op ʼn eienaar se naam geregistreer, kan geen staatsinstelling hetsy munisipaal of provinsiaal, aan eienaars briewe oorhandig om die eiendom te verlaat nie.

“Met die huidige vlaag grondgrype wat tans in die provinsie plaasvind, moet eienaars op hul hoede wees. Indien enige eienaar ʼn skrywe van enige departement af ontvang om eiendom te verlaat en hulle is die wettige verbandhouer of akte-eienaar, moet die VF Plus dadelik hiervan in kennis gestel word by: [email protected],” sê mnr. Van Staden.

Foto: Mnr. Philip van Staden