Motorrubriek – Renault KWID 1,0T Dynamique AMT

Daar kan aanvaar word dat Renault deeglike huiswerk gedoen het voordat daar besluit was om die KWID op die mark te plaas.

Hierdie is die ideale motor vir ‘n “eerste” motor eienaar maar dit is ook die ideale motor as ‘n tweede motor. Moeder kan dit selfs gebruik om die kinders na die skool te pendel.

Dit is lig op brandstof en volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 4,7 l/100 km. Die kragbron is ‘n drie silinder, 12 klep, 999 kubieke sentimeter inlyn kragbron. Die krag van 50 kW beskikbaar teen 5500 en die wringkrag is 91 Nm teen 4250 o.p.m.

Dit is nie ‘n renmotor nie en die versnelling van 0 tot 100 km/u neem 15 sekondes en dit is in staat om ‘n maksimum snelheid van 152 km/u te bereik.

Hierdie is bruikbare voertuig vir die stad en dorp maar selfs op die oop pad kan dit ditself goed laat geld en is dit in staat om met gemak die 120 km/u snelheidsperk te handhaaf. Wanneer ‘n ander voertuig verby gesteek moet word, word daar egter tyd benodig en kan dit ‘n langsame proses wees.

Wat gerief aanbetref skort daar min. Binne-afwerking is van ‘n hoë standaard en ‘n gemaklik sitposisie kan maklik ingeneem word. Die grondhoogte is 180 mm en dit kan dus maklik op selfs ‘n grondpad gebruik word.

Die bouvorm is soortgelyk aan die van ‘n sportnuts voertuig en daar is ‘n onbelemmerde uitsig na buite. Die kattebak se grootte is 300liter en dit kan dus heelwat bagasie akkommodeer. Daar is sitplek vir vyf volwassenes wat met gemak gehuisves kan word.

Daar is drie modelle beskikbaar en dit sien soos volg daaruit naamlik die Expression, Dynamique en die Dynamique AMT. Die afkorting AMT se betekenis is “automated, manuel transmission”. Hierdie motor het nie ‘n rathefboom nie en die ratkiesing vind plaas by wyse van ‘n draaiknop-skakelaar op die instrumentpaneel wat gemerk is R, N en D. R is vir die trurat, N is neutraal en D is vir vorentoe. Om die motor aan te skakel word die skakelaar na N gedraai, die instrumentpaneel se liggies kom aan en daar moet dan drie sekondes gewag word voordat die enjin aangeskakel kan word. Daarna moet die rempedaal getrap word en die handrem word dan losgemaak waarna die skakelaar na D posisie gedraai kan word om te vertrek.

Hierdie motor kan nie aggressief bestuur word nie. Indien die brandstof pedaal heeltemal platgetrap word wanner jy vertrek tree daar ‘n vertragings aksie in en die enjin klank verander. Dan moet die druk op die brandstof pedaal so effe verminder word en sodra die enjin klank verander keer dit terug na normaal en die vertraging aksie verdwyn en reageer die motor weer normaal.

Van die toerusting wat in die motor gemonteer is sluit in ‘n lugsak vir die bestuurder, sitplekgordels vir die voorste sitplekke, ‘n immobiliseerder, ‘n hoog gemonteerde remlig, elektries ondersteunde stuurwiel, elektries  beheerde venster oopmaak vir die voorste vensters, ‘n lugversorger, ‘n twee luidspreker radio met bloutand ondersteuning, ‘n 12 volt kragprop ensovoorts.

Hierdie motor kan gerus op u aankopelys geplaas word wanneer u ‘n motor van hierdie grootte wil aanskaf.