Motorrubriek – Peugeot 3008 1.6 THP 162 Allure

Ons ouer generasie motor entoesiaste sal die Peugeot’s van die verlede nog in gedagte kan roep en hier dink ons aan byvoorbeeld die 404 en 504. Hierdie was uiters betroubare motors en vandag se Peugeot’s is nog steeds net so betroubaar.

Wanneer die nuwe 3008 op ‘n afstand bekyk word kan daar nie werklik enige veranderings opgemerk word nie maar van naderby is dit ‘n ander storie. Dan is dit opmerklik hoeveel veranderings daar in die 2018 model aangebring is. Soveel so dat sommige van die luukse voertuie maar so effe moet terugstaan.

Die 3008 se wielbasis is 62mm langer, die bakwerk is 82mm langer, dit is 3mm smaller en dit hurk 15mm nader aan die pad oppervlakte. Al wat dieselfde bly is die 1600 kub. sentimeter kragbron wat gebruik word.

Daar is sewe verskillende modelle en die enigste een waarin ‘n handratkas gepas is, is die 2.0 liter diesel. Die ander gebruik almal ‘n ses spoed outomatiese ratkas. Die Allure is een trap bokant die 1.6 Active en daar word gebruik gemaak van 18 duim allooi wiele, wegvou spieëls, sleutellose aanskakel en parkeer hulp aan die voorkant. Die aanraakskerm is aan die bokant van die instrumentpaneel gemonteer met verskeie handige funksies. Die aanraakskerm voorsien vier verskillende aanwysings waarvan die eerste een bekend staan as “Personal” en daarop verskyn verskillende instrument aanwysings soos byvoorbeeld persentasie wringkrag ensovoorts.

Alle modelle het ses lugsakke, allooi wielnawe, outomatiese aanskakel van die hoofligte en windskermveërs, voorste kolligte, ABS remme met EBD, EBA en ESP ondersteuning, spoedbeheer met ‘n beperker, ‘n padtekenleser, waarskuwing wanneer die bestuurder vaak word, padlaan verandering waarskuwing en drie ISOFix monteer ringe. Wanneer die voorste passasiers sitplek nie in gebruik is nie kan die leuning plat gevou word sodat lang voorwerpe maklik kan inpas.

Vir ‘n sportnutsvoertuig is die versnelling nie te versmaai nie. Volgens ingeligte bronne versnel dit van 0 tot 100km/u. in 8,9ekondes en die topsnelheid is 201 km/u. Die ETA, Aisin-Warner, sesspoed outomatiese ratkas skakel seepglad oor en dit is bykans onmoontlik om die oorskakeling waar te neem. Wanneer daar teruggeskakel moet word na ‘n laer rat, gebeur dit sonder huiwering. Dit is een van daardie ratkaste wanneer die rem aangeraak word, skakel dit dadelik terug en verleen dus remvermoë saam met die remme.

Die kragbron is 1598 kub. sentimeter, dubbel oorhoofse nokas, sestien klep turbopetrol enjin en 121 kW is beskikbaar tussen 5200 en 6000 o.p.m. En 240 Nm wringkrag is beskikbaar tussen 1400 en 4000 o.p.m. Brandstofverbruik is 8,3l/100 km en die brandstofhouer neem 53 liter.

Die bagasiebak deksel maak aanvanklik moeilik oop maar dan word hulp verleen deur die gasgevulde skokbrekers en maak dit maklik oop. Die bagasiebak neem 591 tot 1670 liter en ‘n vol grootte spaarwiel pas in ‘n holte onder ‘n deksel in die vloer. Om die agterste sitplek se leunings te laat plat vou is daar meganiese hefboom gemonteer om dit mee te doen. Been en kopspasie is nie ‘n probleem nie en alle insittendes kan ‘n gemaklike sit posisie inneem.

Alle ander toerusting soos ‘n radio, lugversorger ensovoorts is gepas en die instrumente is reg voor die bestuurder gemonteer en is maklik leesbaar deur die verstelbare stuurwiel.

Hierdie is die ideale voertuig vir die natuurliefhebber wat byvoorbeeld ‘n besoek wil bring aan die wildtuin en die padgedrag is van hoogstaande gehalte.

Wanneer u ‘n voertuig in hierdie klas wil aanskaf, kan u dit gerus vir ‘n toetsrit neem.