Meesterplan het Trump aan bewind gestel

Die sogenaamde “Facebook-skandaal” waarby die Britse instansie, Cambridge Analytica, betrokke is en gegewens van 50 miljoen mense bekom het, dui glo daarop dat hulle Trump se kandidatuur bevorder het.

’n Dokument wat 27 bladsye beslaan, is blykbaar deur werknemers van Cambridge Analytica opgestel en bewerings is gemaak dat van die personeel noue kontak met die Trump verkiesingspan gehad het.

’n Woordvoerder het later gesê hoe besonderhede op ’n uiters tegniese wyse gebruik is om die Amerikaanse kiesers te bereik.

Dit het die betrokkenes in staat gestel om berigte en tersaaklike inligting die wêreld in te stuur tot voordeel van Donald Trump se veldtog.

Dit het glo ’n invloed gehad om kiesers wat toe nog nie besluit het wie hulle op stemdag sou ondersteun nie.

Alhoewel die wêreld se gebruikers van Facebook uiters teleurgesteld is met die sosiale netwerk, en die grootbaas erken het dat hy foute gemaak het, sê kenners dat Facebook finansieel te sterk is om gekelder te word.