Meer verdeeldheid in Katalonië

Asof die separatiste se onafhanklikheidsverklaring verlede jaar nie vir genoeg spanning gesorg het nie, is ’n nuwe vlaag van protes besig om die Spaanse deelstaat, Katalonië, verder te verdeel en die spanning te verhoog.

Duisende mense het die afgelope naweek in die streek se hoofstad, Barcelona, aan ’n protes optog deelgeneem en geëis dat die Tabarnie “provinsie” in Katalonië, deel van Spanje moet wees en nie meer as deel van Katalonië beskou moet word nie.

Die pro-Spaanse kiesers wil nou ’n aksie van stapel stuur om weg te breek van Katalonië, maar kenners meen die versetaksie sal nie tot konkrete veranderings lei nie.

Die leiers van die optog sê hulle wil die Tabarnie gebied onafhanklik verklaar van Katalonië, om weer as deel van Spanje ingelyf te word.

Waarnemers is van oordeel dat die inisieerders van die pro-Spaanse aksie dieselfde oortreding begaan as wat die separatiste begaan het verlede jaar, en derhalwe ook vervolg moet word.