Ksenia Sobtsjak, politieke opponent van Poetin

Alhoewel verskeie koerante in Europa beweer dat Ksenia Sobtsjak ’n lakei van president Vladimir Poetin van Rusland is, blyk dit tog dat die dame alles moontlik doen om steun te werf vir haar as presidentskandidaat.

Rusland se presidentsverkiesing vind plaas op 18 Maart, en omdat die amptelike opposisie kandidaat weens beweerde kriminele misdrywe nie as kandidaat mag staan nie, word die hoop gevestig op die 36-jarige TV persoonlikheid wat ook bekend is as politieke teenstander van Vladimir Poetin.

Kenners wys op die merkwaardige verskynsel wat tans in Rusland afspeel met president Poetin wat spoorloos “verdwyn” het en nie werklik deelneem aan die veldtog nie, alhoewel sekere meningsvormers van oordeel is dat die president gemaklik gaan wen en dus nie ’n veldtog hoef te voer nie.

Politieke ontleders sê die vroulike kandidaat is vir die Russiese kieserskorps nog ’n vreemde gedagte, maar van die jonger kiesers het besluit om hulle steun aan die jong dame te gee.

Kiesers is egter bekommerd dat sy nie oor genoeg ervaring beskik om as president van die grootste land op aarde, goeie regering te bestuur nie.

Ksenia Sobtsjak is die dogter van ’n welbekende senator en vurige ondersteuner van die Poetin regering, terwyl sy dogter een van Poetin se skerpste kritici in Rusland is.