Kataloniërs protesteer teen Puigdemont arrestasie

Sowat 60 tot 70 duisend separatiste het in die strate van Barcelona geprotesteer teen die arrestasie van hulle leier, Carles Puigdemont.

Die voormalige minister-president van Katalonië was glo onderweg vanaf die Skandinawiese lande na België, en het deur Duitsland gereis toe hy daar in hegtenis geneem is.

Die optoggangers eis die vrylating van Carles Puigdemont en ander voormalige ministers wat betrokke was by die onafhanklikheid wat in die Kataloniese parlement afgekondig is.

Dit is veral toe die polisie in Duitsland uitvoering gegee het aan die uitleweringsbevel van die Spaanse owerheid dat die separatiste woedend geword het en in hulle duisende gestap het in die strate van Barcelona.

Spanning het opgebou toe die separatiste voor die setel van die Spaanse regering in Barcelona vreedsaam saamgedrom het om die vrylating van hulle leiers te eis, en die tussenbeidetreding van die polisie het sake vererger wat uiteindelik gelei het tot talle insidente en sowat ’n 100 optoggangers is ernstig beseer.

Die gewelddadigheid van die polisie het gelei tot ’n woede uitbarsting onder die skare, en is eiendom beskadig wat tot verdere optrede met traangas gelei het.

“Ons is nie geweldenaars nie, ons is vryheidliewende burgers wat die vrylating van ons leiers vra, en doen dit op beskaafde wyse, maar die polisie se optrede is onaanvaarbaar”, het een van die protesteerders gesê.