JPSA wil Aarto skrap

Die regsprojek van Suid-Afrika bekend as JPSA (Justice Project of SA) het ‘n beroep gedoen op die regering om die omstrede Aarto wet te “skrap” en terug te keer na die Strafproses Wet.

Die beroep is ondersteun deur die Outomobiel Assosiasie (AA).

Die strafpunt stelsel van Aarto het soveel probleempunte dat dit chaos kan veroorsaak.

‘n Bestuurder van ‘n vloot voertuie onder hom betaal al die boetes namens die maatskappy maar hy nomineer nie elke keer die bestuurder nie, en dan kry hy 500 strafpunte teen sy eie bestuurderslisensie.  Dit kan beteken dat die persoon jare moet wag voor hy kan bestuur.

Indien die nuwe Aarto Wet goedgekeur sou word, word elektroniese kennisgewings van oortredings as voldoende beskou en indien ‘n persoon nie kennis sou dra van die e-pos nie, kan sy bestuurderslisensie sonder enige verdere kennisgewing van hom ontneem word sodra hy die perk van strafpunte oorskry.

Aarto het in Pretoria en Sentraal Transvaal misluk met menige sake wat uitgegooi is weens verwarrende en verkeerde interpretasies van die bestaande wet.