Jemen word ’n cholera-gevaar

Na drie jaar van oorlog in die Midde Ooste staar Jemen ’n geweldige groot gesondheidsprobleem in die gesig, en kan duisende inwoners omkom weens die dreigende cholera krisis.

Die Verenigde Nasies het ’n waarskuwing uitgereik dat die lewensomstandighede in Jemen “katastrofiese” gevolge inhou weens die langdurige konflik.

John Ging van die Verenigde Nasies sê Jemen word beskou as die wêreld se mees haglike omstandighede vir mense, en die humanitêre krisis word ’n al groter probleem met die dreigende cholera epidemie.

Volgens die VN se Gesondheid afdeling is meer as ’n miljoen mense reeds aangetas met cholera infeksie en die situasie word steeds erger.

Die toenemende konflik in die land het meer as ’n 100 000 mense laat padgee uit hulle woongebiede, en is tans swerwende en sonder ’n heenkome.

Meer as 15 000 mense het reeds omgekom in die geweld, en waarnemers meen die syfer is uiters konserwatief bereken terwyl daar daagliks nuwe voorvalle aangemeld word van sterftes as gevolg van geweld.