Italiaanse konserwatiewes kry die meeste stemme

Die nasionalistiese Vyfster Beweging  van Italië het die grootste deel van die stemme op hom verenig, maar kon nie daarin slaag om ’n meerderheid te trek nie en sal waarskynlik met ander konserwatiewe partye in koalisie gaan.

Alessandro Di Battista van die Vyfster Beweging het gesê die voorlopige syfers dui op ’n totaal van 32% wat beskou word as ’n reuse deurbraak en is bestempel as ’n “ware triomf” vir nasionalisme.

Hy sê ruimte sal gelaat word vir enige van die politieke partye wat wil praat met Vyfster oor koalisievorming.

Die konserwatiewe en nasionalistiese partye sal gesamentlik ’n meerderheid in die Italiaanse parlement vorm, maar die linkse partye het hulle bedenkinge of die koalisie volhoubaar en werkbaar sal wees.

Na verwagting sal die gesprekke in die volgende weke gevoer word om uiteindelik ’n nuwe regering en kabinet saam te stel.

Die regerende linkse Demokratiese Party het aansienlike steun verloor en moes tevrede wees om slegs 23% van die stemme te trek.

Die nasionaliste se gesamentlike steun is egter nie voldoende om die vereiste 40% steun te kry nie, wat kan meebring dat die Italiaanse president, Sergio Mattarella, ’n regering moet saamstel in gevolge die land se kieswette.

Foto – Vyfster leier Alessandro Di Battista