IS slaan toe in Frankryk

Die Franse publiek het met skok verneem van nog ’n terroriste aanval in hulle land wat die dood van minstens drie onskuldige mense veroorsaak het.

Die terroris het in die suide van Frankryk, in die dorp Trèbes, naby Carcassonne, ’n supermark binne gestorm en drie mense gedood in ’n blinde skietery.

Kort daarna het polisiebeamptes opgedaag en kon hulle daarin slaag om die terroris wat Islamitiese Staat verbintenisse het, dood te skiet.

Die terroris het glo die vrylating van Salah Abdeslam, ’n mede-terroris geëis, en het besluit om onskuldige mense te skiet om sodoende die aandag op sy eis gevestig te kry.

Die Franse minister van binnelandse sake het later gesê die Islamitiese Staat het verantwoordelikheid vir die moorde aanvaar.

In die geveg tussen die polisie en die terroris is een van die polisielede gewond, en verkeer in ’n ernstige maar stabiele toestand. Die koeël wat hom getref het, is rakelings verby sy hart en is eers later verwyder.

Benewens die polisiebeampte is nog ’n persoon gewond, maar is buite gevaar en steeds in die hospitaal vir waarneming.

Later is berig ontvang dat ’n polisiebeampte wat homself aangebied het as gyselaar, deur die skieter gewond is, en in die hospitaal gesterf het.