Handelsoorlog dalk selektief toegepas

Nadat president Donald Trump hewige kritiek gelok het met sy dreigement om invoerheffings toe te pas, het die groot sakemanne van die wêreld begin planne beraam om hulle belange te beskerm.

Maar die Amerikaanse president het uiteindelik begin om sekere lande vry te stel, waarvan Kanada en Australië die eerstes is.

In sy jongste twiet het hy gesê die Europese lande kan ook kwalifiseer, maar die voorwaarde is dat die lande ook hulle tariewe laat val.

Die heffings wat nou deur die VSA op staal en aluminium van toepassing is, het die Europese Unie gedwing om ure lank gesprek te voer met Amerikaanse woordvoerders, maar kon nie tot ’n oplossing kom nie.

Waarnemers meen die toegewing wat president Trump sal maak aan die EU lande, kan uiteindelik beteken dat heffings slegs van toepassing raak op Sjina, Rusland en Noord-Korea.

President Trump het vroeër daarop gewys dat invoer van staal en aluminium na die VSA verminder moet word deur ’n heffing in te stel.

Waarnemers wys daarop dat president Trump ernstig is om die invoer van goedere uit Sjina te verminder aangesien Sjina ’n handelsoorskot van miljarde dollar realiseer in elke finansiële jaar.