Buitelandse projekte gestop oor onteieningspraatjies

Die parlement se besluit om ‘n mosie te aanvaar ten gunste van onteiening sonder vergoeding, het direk daartoe gelei dat twee Europese projekte in Suid-Afrikaanse landbou skipbreuk gelei het. Die projekte sou etlike miljoene rand vir die land beteken het, terwyl dit ‘n paar duisend werksgeleenthede sou skep. Daarbenewens was TLU SA besig met onderhandelings om ‘n finansieringmodel daar te stel wat meer bekostigbare finansiering aan landbou sou stel, en is daardie onderhandelings deur die internasionale groep gestop na die bekendmaking van die ANC se standpunt oor onteiening sonder vergoeding.

Die standpunt van die minister van grondsake, dat sy nie gaan wag vir die bevindinge van die parlementêre ad hoc-komitee oor die verandering van die Grondwet, asook mnr. Gwede Mantashe se standpunt dat die regering hom voorberei vir ‘n toetssaak oor onteiening, stuur ‘n verdere negatiewe boodskap uit na die internasionale beleggersgemeenskap, waarsku mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA.

“Die regering moet besef dat die internasionale gemeenskap nie dom is nie. Hulle het gesien wat in Oos-Europa gebeur het en in die Sowjet-Unie, en het reeds die vergelyking begin tref dat die onteiening in wese die begin is van nasionalisering, wat sal lei tot ‘n sosialistiese, en uiteindelik kommunistiese stelsel. Solank die ANC-bewind homself nie tot onvoorwaardelike ekonomiese groei, gevestig op eiendomsreg en die vryemarkbeginsel verbind nie, sal al hoe meer kapitaal uiteindelik uit die land vlug, selfs nog voor dit behoorlik hier aangekom het.

“Die einde van hierdie proses waarmee die regering besig is, is totale verval van die land se ekonomie en herverdeling van armoede, wat almal gaan raak. Die wêreld sal belê waar opbrengste behaal kan word, en is nie bereid om waagkapitaal in te bring om ‘n mislukte ideologie te probeer in stand hou nie. Daar kan nie ‘n méér negatiewe sein uitgestuur word in die ekonomie as om te sê dat iemand se bates geneem gaan word sonder vergoeding. Dit is in enige beskaafde land diefstal, en om dit grondwetlik te probeer regverdig, bly steeds diefstal,” sê mnr. Meintjes.