Buiteland ingelig oor SA toestande

 

‘n Afvaardiging van die Duitse AfD (Alternatief vir Duitsland)-party, het die VF Plus se parlementêre koukus besoek om verkennend te gesels oor belangrike Suid-Afrikaanse kwessies, waaronder onteiening sonder vergoeding en plaasmoorde, en om skakeling tussen die twee partye te bewerkstellig (foto).

Die afvaardiging is gelei deur mnr. Sven W. Tritschler, ‘n provinsiale parlementslid van die Duitse staat Noordryn-Wesfale.

Die gesprek vorm deel van die VF Plus se “Slaan terug SA”- veldtog as daadwerklike poging om die internasionale gemeenskap in te lig ten opsigte van die huidige bedreiging van eiendomsreg in Suid-Afrika en ander menseregtevergrype.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het België verlede week besoek as deel van hierdie internasionaliseringsveldtog.

Hy het onder meer aan ‘n stille protesoptog van verskeie Vlaamse jeugbewegings teen plaasmoorde in Gent deelgeneem en toegespreek, met Europese parlementslede vergader en die presidensie van UNPO (Unrepresented Nations & Peoples Organization) toegespreek.

Dr. Groenewald sê indien die Grondwet van Suid-Afrika wel gewysig word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, sal dit ‘n oortreding van onder meer die Verenigde Nasies se Handves en Internasionale Deklarasie op Menseregte wees.

“Dit is daarom belangrik om die internasionaliseringsprogram te dryf sodat die buiteland betyds van die verwikkelinge in Suid-Afrika kan kennis neem.”