VSA verskerp sanksies teen Noord-Korea

President Donald Trump van Amerika het tydens ’n uur lange toespraak by die Konserwatiewe Konferensie bekendgemaak dat nog skerper sanksies teen Noord-Korea ingestel word.

Die Amerikaanse Departement van Finansies het bevestig dat meer en strenger sanksies teen die kommunisties skiereiland ingestel word met die fokus op handelskepe wat moontlik onderweg kan wees na Noord-Korea.

Die sanksies is direk verbind tot sowat 27 verskepingsmaatskappye en 28 skepe wat gekontroleer word deur die buitelandse voorraadbeheer instansies.

Maatskappye met hoofkantore in Noord-Korea en ander buite die land, soos Sjina, sal voortaan dopgehou word om te verseker dat die VN se sanksie resolusies nagekom word.

Onbevestigde berigte lui dat die VSA die sanksieveldtog verskerp nadat die kommuniste die gesprek wat gehou moes word met visepresident Mike Pence, onverwags gekanselleer het.