Noord-Korea willig in tot dialoog met VSA

’n Afvaardiging van Noord-Korea het bevestig dat Pyongyang “baie gewillig” is om dialoog met Washington te voer in ’n poging om die spanning te verlig.

Die inligting is vrygestel na afloop van die Olimpiese Winterspele in Suid-Korea waar die kommunistiese Noord-Korea ook deelgeneem het met ’n paar deelnemers.

Waarnemers vind dit vreemd dat Noord-Korea nou bereid is om met die VSA in gesprek te tree nadat hulle die ontmoeting met visepresident Mike Pence afgestel het kort voor die afspraak nagekom sou word, en dit gedoen het sonder om ’n rede aan te voer.

President Donald Trump se dogter, Ivanka, het tydens die afsluitingsfunksie van die Winterspele redelik na aan, Kim Jong Chol, die suster van die kommunistiese diktator gesit, maar geen kontak is gemaak nie.

Politieke ontleders sê dit is nie duidelik of die Noord-Koreaanse leiers tot dialoog ingestem het weens die bekommernis vir die uitwerking wat verdere sanksies kan veroorsaak.

Die VSA het verlede week aangekondig dat verdere sanksies teen Noord-Korea toegepas gaan word wat meebring dat skepe na en van die skiereiland geblokkeer kan word.

Foto – Kim Jong-Un