Lekker gevulde sampioene

Wat eet ons vanaand? Sampioene met ‘n krummellagie en boonop gevul ook, lekkerder  as smullekker. Dit kan dien as ‘n ligte ete of voorgereg.

Vir die vulsel, meng saam:

‘n halwe houer (110 gr) roomkaas, 1 fyngedrukte knoffelhuisie, 30 ml gerookte paprika, 30 ml fyngekapte ingelegde jelapeno, 5 ml fyn koljander, en die gerasperde skil van ‘n halwe suurlemoenskil.

Breek die stingels van 2 houers knopiesampioene versigtig af en vee die heel sampioene mooi skoon met kombuis handoekrol.

Vul die sampioene met die roomkaasmengsel (gebruik ‘n bottermes en druk vulsel lekker styf vas.

Doop dit in 1 koppie meel, dan 2 geklitste eiers en laastens in broodkrummels tot goed bedek. Verkoel vir 30 minute sodat krummels vas kan kleef.

Verhit 4 cm olie in kastrol en vlakbraai die sampioene tot goudbruin.

Dreineer op kombuispapier.

Vir die doopsous:

Meng 1 avokadopeer, 60 ml suurroom en ‘n bietjie lemmetjie of suurlemoensap saam en bedien saam met die sampioene.