Le Pen sê “Frankryk eerste”

Die voormalige parlementslid van Frankryk en niggie van die leier van die nasionalistiese Front Nasionaal het in ’n toespraak wat sy gehou het voor die Konserwatiewe Politieke Aksie Konferensie gesê hulle staan vir “Frankryk Eerste”.

Die 28-jarige Marion Marechal-Le Pen is die nuwe opkomende ster onder nasionaliste in die wêreld, maar in besonder ook in Europa en Frankryk.

Sy sê Frankryk moet die voorbeeld van president Donald Trump volg en is staande toegejuig na afloop van haar toespraak.

Die konserwatiewes het ’n konferensie gehou buite Washington waar  Marion Marechal-Le Pen, die niggie van Marine Le Pen, opgetree het.

Marion Marechal-Le Pen word in Frankryk beskou as die volgende leier van Front Nasionaal nadat gerugte rondgaan dat Marine Le Pen moontlik wil uittree as leier.

’n Sterk ondersteuningsbasis is gevorm om die jong dame te oorreed om betrokke te bly in die Franse politiek nadat sy verlede jaar aangekondig het dat sy uit die politieke arena getree het.

Sy het net nadat die Amerikaanse visepresident, Mike Pence, sy toespraak gehou het, geleentheid gekry om op die verhoog te kom, en het onder luide applous haar toespraak begin.

“Ek wil ook ’n “Amerika Eerste” sien, en ek wil ook ’n “Brittanje Eerste” sien, maar ek wil ook ’n “Frankryk Eerste” sien”, het sy gesê..

In haar tien minute toespraak het sy ook die Europese Unie gekritiseer ’n gesê Frankryk is nie meer ’n vrye land nie wat “ons vryheid is in die hande van die Europese Unie”.

Die Konserwatiewe Politieke Aksie Konferensie word jaarliks bygewoon deur hoë profiel konserwatiewes wat deur Amerikaners aangebied word, en vanjaar deur president Trump toegespreek is.

Foto – Marion Marechal-Le Pen