Hardkoppige Lesufi mors geld

Die Gautengse LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, is soos ʼn hardkoppige, stout kind wat nie wil luister nie en hom gaan vasloop in sy poging om hom tot die Grondwethof te wend aangaande die Hoërskool Overvaal-saak, sê Philip van Staden, VF Plus-lid van die Gautengse wetgewer.

Van Staden sê Lesufi se nuutste poging gaan bloot ʼn vermorsing van belastingbetalers se geld wees aangesien die hooggeregshof se uitspraak in die Overvaal-saak nie grondwetlike kwessies aangeraak het nie, maar slegs bepaal het dat bykomende leerlinge nie ingeneem kan word nie aangesien die skool vol was.

“Die VF Plus is van mening dat Lesufi se politieke agenda besig is om uit te rafel en dat hy die fokus wil verskuif van sy onvermoë om sy departement reg te bestuur. Hy moet eerder daarop fokus om sy primêre take uit te voer deur aandag te gee aan die bou van genoegsame skole en die aanstel van onderwysers in die provinsie.

“Lesufi sal nou alle pogings, ten koste van die belastingbetaler, aanwend om sy sin te kry. Hy is besig om kinders se lewens by skole in gevaar te stel deur betogings daar toe te laat net om sy wil op die inwoners van Gauteng af te dwing.

“Die VF Plus is van mening dat Lesufi se Grondwethof-aansoek nie suksesvol gaan wees nie. Hy moet eerder luister na die uitsprake van die nasionale minister van onderwys, Angie Motshekga, dat Afrikaans nie uit skole verwyder moet word nie en dat daar plek vir Afrikaans in skole is.

“Die tyd het aangebreek dat minister Motshekga optree en Lesufi op sy plek sit aangesien die Gautengse premier, David Makhura, nie teen hom sal optree nie. Intussen is Lesufi besig is om onnodige rassewrywing in Gauteng te veroorsaak,” sê Van Staden

Foto: Mnr. Philip van Staden