Groot probleme vir Wes-Kaapse boere oor droogte

Wes-Kaap boere se lewering van vrugte druiwe en groente vorm ‘n groot deel van die provinsie se inkomste.  Meer as 20% van die land se landbou lewering kom vanuit die Wes-Kaap.  Voeg daarby die lewering van canola, graan en selfs vleis- en melkprodukte, dan vorm dit ‘n groot deel van die provinsie se bruto nasionale inkomste.

Al hierdie produkte wat gelewer word is egter afhanklik van voldoende en skoon water.

Met die huidige droogtetoestande staar baie boere finansiële ondergang in die gesig.

Druiwe boere in die Clanwilliam omgewing se oeste word op 40% van die normale oes geskat en ingeligte bronne meld dat banke reeds op bykans 40 boere se finansiële beplanning moes ingryp.  In effek beteken dit dat hierdie boere onder vrywillige administrasie verkeer.

Sekere kultivars het reeds soveel skade opgedoen dat wingerde ontbos is.  Herstel kan jare neem indien die boer in staat is om weer nuwe wingerde aan te lê. Voeg hierby die gebrek aan inkomste van seisoenale werkers en die moontlikheid van misdaad, dwelmmisbruik  en selfs weer gewelddadige betogings wat voor die deur is, is die prentjie nie rooskleurig nie.