Frankryk dreig Siriese regering

President Emmanuel Macron van Frankryk het die regering van Sirië gewaarsku dat hy nie sal huiwer om lugaanvalle uit te voer teen hulle indien die Siriese weermag chemiese wapen gebruik.

Reddingswerkers in Sirië het telkens gerapporteer dat die Siriese regering van president Bashar al-Assad by verskeie geleenthede van chemiese wapens gebruik gemaak het.

President Macron het Woensdag gesê dat die Franse lugmag “sal toeslaan” op die Siriese weermag indien chemiese wapens veral teen burgerlikes gebruik sou word.

Hy het egter bygevoeg dat hy bewyse benodig van sodanige optrede van die Siriërs alvorens Frankryk sal ingryp.

Die Franse president het aan joernaliste gesê dat Frankryk sal toeslaan op die plekke waar die chemiese wapens vervaardig word indien hy vaste bewyse daarvoor het dat dit wel gebruik is.

Intussen het president Assad die bewerings ontken en gesê dit is gefabriseerde gerugte wat versprei word om die Siriese regering in onguns te bring.

Op 5 Februarie is ’n bom wat blykbaar chemiese stof bevat het, van ’n helikopter afgegooi in die Idlib provinsie wat talle mense met asemhalings probleme gelaat het, maar die Siriese menseregte waarnemers kon nie afdoende bewyse lewer van die gewraakte voorval nie.

Foto – President Bashar al-Assad